Privaatvervolgingseenheid en Tshwane-gemeenskapsveiligheid staan saam teen korrupsie

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, en Grandi Theunissen, Tshwane se burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid, het vandag die hofverskyning van drie Tshwane-metropolisiebeamptes bygewoon wat van afpersing en roof aangekla word. Johnson Lebombo, Aubrey Phalane en Makgoba Raboshacia het vlugtig in die Landdroshof in Pretoria verskyn.

Nel het buite die hof gesê dit is belangrik om slagoffers te ondersteun en om sulke verrigtinge by te woon. “Ons is hier om die gemeenskap te ondersteun – om ontslae te raak van rampokkers op ons strate. Die ironie is dat hierdie rampokkers kentekens en uniforms dra, en hul salarisse word deur die publiek betaal. Ons het genoeg gehad.

“In hierdie saak het ons ’n perfekte ooreenkoms van samewerking: eerstens die slagoffers wat nee vir hierdie tipe optrede  gesê het; die bestuur van die Tshwane-metropolisie wat gesê het genoeg is genoeg; die burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid, Grandi Theunissen, wat betrokke geraak het; en die polisie wat ons hulp aanvaar het. Ons loof die SAPD en die ondersoekbeampte vir hulle volharding in die hantering van sulke sake,” gaan Nel voort.

Theunissen het Nel en die privaatvervolgingseenheid vir die ondersteuning bedank. “Dit is absoluut noodsaaklik dat ons ’n voorbeeld maak van mense wat ’n skande vir die Tshwane-metropolisie is.

“Daar is goeie metropolisiebeamptes daar buite, maar ons kan nie toelaat dat vermeende misdadigers inwoners van ons stad terroriseer nie. Ons sal sterk optree teen hierdie tipe gedrag, en ons alles in ons vermoë doen om dit uit te roei,” sluit Theunissen af.

Nel het lede van die publiek versoek om nie stille slagoffers te wees nie. “Ons verstaan dat dit ’n moeilike en frustrerende proses is, maar ons sal jou ondersteun. Hierdie beweerde misdade is ernstig – dit is in werklikheid gewapende roof. Ons het al hoe meer gevalle gesien waar vuurwapens gebruik word om die slagoffers te dreig,” sê Nel.

Lebombo, Phalane en Raboshacia het na bewering in September verlede jaar ’n motoris afgetrek wat daarvan beskuldig was dat hy te vinnig gery het. Sy meisie en hul 10-jarige dogter was ook in die voertuig. Die beamptes het na bewering sy persoonlike vuurwapen by hom afgevat. Daarna het hulle gedreig om hom in hegtenis te neem en na bewering gedwing om kontant by ’n OTM by ’n vulstasie in Rigellaan in Pretoria te onttrek. Daarna het die beamptes die man na bewering agter in die polisievangwa ingedwing en na ’n verlate gebied geneem. Hier moes hy na bewering die R4 000 wat hy pas onttrek het aan hulle oorhandig en het na  bewering hom ook van ’n verdere R1 000 in sy beursie beroof.

Daar was vandag ook ’n skermutseling in die straat buite die hof tussen die trio en ’n fotograaf van die media, wat probeer het om ’n foto van die beskuldigdes te neem.

Die saak sal op 22 Augustus 2023 hervat. Die media word genooi om die hofverrigtinge by te woon en om ’n aansoek in te dien om hierdie verrigtinge af te neem.

Similar Posts