Privaatvervolgingseenheid eis vordering van NDOV rakende vervolging van Mbalula vir korrupsie

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het in ’n skrywe aan adv. Shamila Batohi, die nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV), vordering versoek rakende die vervolging van Fikile Mbalula, die Minister van Vervoer, op klagtes van geldwassery en korrupsie. Dit volg nadat dit aan die lig gekom het dat daar moontlik ’n belangebotsing binne die nasionale vervolgingsgesag (NVG) kan bestaan rakende die geld wat Mbalula ontvang het om sy skuld aan die berugte Dockrat-familie te betaal.

Monique Taute, hoof van Veldtogte by AfriForum, het in Augustus 2019 strafregtelike klagtes van geldwassery en korrupsie teen Mbalula (destyds die Minister van Sport) by die Brooklyn-polisiestasie ingedien, omdat Sedgars Sport, ’n sportprodukteverskaffer, in 2017 na bewering tussen R300 000 en R680 000 vir die Mbalula-gesin se reis na Dubai opgedok het. AfriForum het die Openbare Beskermer (OB) in 2017 versoek om dié reis te ondersoek. Die OB het bevind dat Mbalula die Grondwet en ander wetgewing met hierdie reis oortree het. Sy het die NVG ook beveel om ondersoek in te stel om te bepaal of die fondse wat gebruik is om vir die reis te betaal, die opbrengs van geldwassery was al dan nie.

“Dit is nou reeds drie jaar sedert hierdie strafregtelike klagtes gelê is. Die vervolgingsgesag se voortdurende verskonings dat die ondersoek nog hangend is, kan dus nie meer aanvaar word nie, veral aangesien die OB se verslag al die feite, en selfs die name van getuies bevat, asook die diensverskaffer identifiseer,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Volgens adv. Nel is die enigste afleiding wat gemaak kan word vanuit die onverklaarbare gebrek aan vordering in die saak, dat sommige mense (in George Orwell se woorde) meer gelyk is as ander en dat die NVG onwillig is om op te tree teen ’n kabinetsminister wat in die regte politieke kamp is. “Tydens die vervolging van Bathabile Dlamini, die voormalige Minister van Sosiale Ontwikkeling, het die aanklaer gesê dat die gemeenskap ’n sekere standaard van verantwoordbaarheid van staatsamptenare vereis en dat die posisie wat sy as minister beklee het nie ’n onbenullige posisie is nie. Ons stem volkome saam met hierdie sentiment en vermaan die NVG om Mbalula ook met dieselfde ingesteldheid en sonder vrees, begunstiging of vooroordeel te vervolg. Die afleiding dat verbondenheid aan sekere politieke faksies verskansing teen vervolging bied, word duidelik. Indien die NVG aanhou versuim om Mbalula te vervolg, sal die privaatvervolgingseenheid genoop wees om die regsremedies tot ons beskikking in te stel om die NVG te dwing om ’n besluit te neem” sê adv. Nel.

Similar Posts