Die NVG se vertragings in die On Point Engineering-korrupsiesaak belemmer geregtigheid

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het weereens sy onwilligheid getoon om korrupsiesake ernstig op te neem, en sy geneigdheid om te sloer in die hoop dat AfriForum se privaatvervolgingseenheid se belangstelling in ’n saak sal kwyn.

Agt jaar nadat die On Point Engineering-saak teruggetrek is, is nie Julius Malema, EFF-leier, of enige van sy vier medebeskuldigdes teruggeroep hof toe om te antwoord op die bewerings van bedrog en geldwassery, wat verband hou met ’n tender ter waarde van R52 miljoen van die Departement van Paaie en Vervoer in Limpopo nie.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid wil weet waarom en het al voorheen aan die nasionale direkteur van Openbare Vervolging, adv. Shamila Batohi, geskryf om uit te vind. Die nuutste reaksie vanaf die hoogste vlakke van leierskap in die NVG is nie net neerhalend nie, maar skep meer vrae as wat dit antwoorde verskaf. Hierdie optrede gaan teen die onlangse voorneme wat deur die minister van Justisie, Ronald Lamola, in die parlement gemaak is ten opsigte van die bekamping van korrupsie.

In November 2019, nadat die eenheid ’n mandamus-aansoek teen die NVG ingedien het, is daar aangekondig dat ’n saak teen vier van die On Point Engineering-beskuldigdes sal voortgaan – maar nie teen Malema nie. Die hoof van die NVG se Nasionale Vervolgingsdiens, adv. Rodney de Kock het in ’n brief aan die eenheid gesê dat daar nie genoeg bewyse teen Malema is om ’n saak teen hom te bou nie – ’n stelling wat die eenheid ten sterkste verwerp.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid het in Maart vanjaar ’n skrywe aan Batohi gerig:

“Ons moet die NVG weer uitdaag om hul beloftes na te kom. Ons het in die openbaar en in korrespondensie hul verbintenis om korrupsie, waar polities verbonde individue betrokke is, te prioritiseer beskryf as niks meer as lippediens nie. Byvoorbeeld, in die bogenoemde brief gedateer 01 Oktober 2021, het advokaat De Kock aangedui dat: “…die vervolging van On Point Engineering (Edms) Bpk en sy direkteure sal afsonderlik voortgaan om enige verdere vertragings te vermy…”

Hierdie kantoor het geduldig gewag … en is raadop om te probeer verstaan ​​hoekom die beskuldigdes nie in die hof verskyn het nie. Die enigste afleiding is dat die verhouding tussen die verdagtes en mnr. Malema ’n rol gespeel het in die NVG se versuim om op te tree en dat die verklaarde voorneme om te vervolg ’n blote vertragingstaktiek was in die hoop dat ons belangstelling sal kwyn.

Ons herhaal ons standpunt dat die onwilligheid om vervolging teen mnr. Malema in te stel irrasioneel is en enige moontlike vervolging teen hom in die toekoms sal benadeel.”

Dit het die NVG vyf maande geneem om te reageer. De Kock sê in ’n brief, gedateer 18 Augustus 2022, dat die “saak steeds die nodige aandag geniet deur die Gespesialiseerde Handelsmisdaadeenheid, Pretoria, met die oog daarop om dit in die Limpopo-afdeling van die hooggeregshof te vervolg.”

Dit is verregaande dat ’n saak wat in werklikheid gereed was vir verhoor in 2015, enige verdere aandag kort, wat nog te sê ’n bykomende drie jaar se aandag nadat besluit is om die saak weer ter rolle te plaas. Dit was as gevolg van die ingryping van die privaatvervolgingseenheid dat die saak weer ter rolle geplaas is maar die daaropvolgende mislukkings illustreer dat die NVG geen aptyt het om polities-verbonde individue op klagtes van korrupsie te vervolg nie.

Die eenheid se belangstelling in hierdie saak sal nie kwyn nie, en die eenheid sal voortgaan om druk op die NVG uit te oefen om op te tree. Die eenheid vra slegs dat die NVG dieselfde vlak van toewyding toon om korrupsiesake te vervolg.

Similar Posts