AfriForum loods regsaksie oor beweerde bedrog en korrupsie by die Universiteit van Johannesburg

AfriForum het ’n aansoek ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA)  op die Universiteit van Johannesburg (UJ) beteken na aanleiding van beweerde bedrog en korrupsie op die hoogste vlakke van die universiteitsbestuur tussen 2014 en 2017.

AfriForum se aansoek het ten doel om inligting te kry oor die kaping van die intellektuele eiendom van die voormalige UJ-professor, Vivian Alberts. Die hofaansoek volg nadat dit bekend geword het dat wêreldgehalte tegnologie vir die vervaardiging van dunlagiesonselle op ’n onwettige wyse en sonder Alberts se medewete deur uitvoerende rolspelers en raadslede van die universiteit na ’n privaatmaatskappy oorgedra is. Alberts het hierdie dunlagiesonselle, wat wêreldwyd gepatenteer is, sedert 1993 by UJ ontwikkel.

AfriForum se regspan versoek daarom namens Alberts dat die hof die Universiteit van Johannesburg gelas om inligting te verskaf wat verband hou met die kaping van

intellektuele eiendomsreg en bates van Photovoltaic Technology Intellectual Property (PTiP). PTiP is ’n afwentelmaatskappy van UJ wat in 2005 deur onder meer Alberts as stigterslid en aandeelhouer gestig is om die dunlagiesonselle te kommersialiseer. Die beweerde kaping van PTiP se intellektuele en kommersiële bates het plaasgevind nadat die tegnologie reeds suksesvol in Duitsland en China gekommersialiseer is.

Die vernaamste inligting wat AfriForum deur middel van die PAIA-aansoek namens Alberts wil inwin, is ’n forensiese ouditverslag wat handel oor die korrupte aktiwiteite rakende hierdie kaping en uitbuit van intellektuele eiendom.

“Deur hierdie inligting in te win, hoop AfriForum om moontlike korrupsie en bedrog by die Universiteit van Johannesburg te ontbloot en hok te slaan. Dit is onaanvaarbaar en onwettig indien prominente rolspelers by UJ hul mag misbruik het om intellektuele eiendom op ’n onregmatige wyse aan ’n privaat maatskappy oor te dra ter doel van selfverryking,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Similar Posts