“Korrupsie” by Indlela Opleidingsakademie oopgevlek; instrukteur steeds nie geskors of gearresteer

AfriForum se privaatvervolgingseenheid staan tans twee klaers by met klagtes van korrupsie teen ’n instrukteur van die Indlela Opleidingsakademie. Dit volg nadat die betrokke instrukteur na bewering omkoopgeld van onderskeidelik R7 000 en R4 000 van die klaers geëis het ten einde hulle hul eksamens vir dieselwerktuigkundiges te laat deurkom. Beide het geweier om die geld te betaal en strafregtelike klagtes teen die instrukteur gelê, asook dié gedrag by sy hoofde aangemeld. Ten spyte van die strafregtelike klagtes teen hom, is die instrukteur egter steeds nie geskors nie.

Die klaers het op 13 Mei 2022 — die datum van die voorval — strafregtelike klagtes teen die instrukteur by die Olifantsfontein-polisiekantoor gelê. Hulle het AfriForum se privaatvervolgingseenheid om bystand genader en lede van die eenheid het een van die klaers vergesel na die polisiekantoor sodat hy ’n meer volledige verklaring kon aflê.

Beide klaers het tydens hul praktiese opleiding goed gevaar en hulle was dus geskok toe die betrokke instrukteur vir hulle sê dat hulle nie baie goed in die eksamen gevorder het nie en daarna die betaling geëis het. Die instrukteur het ook na bewering besonder gedetailleerde instruksies aan die klaers gegee oor watter stappe gevolg moet word om die omkoopgeld te verskaf.

Volgens Natasha Venter, adviseur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, is dit kommerwekkend dat daar moontlik vakleerlinge deurgesit kan word wat nie noodwendig op peil is nie, bloot omdat hulle omkoopgeld betaal. Dit dui volgens Venter op die eroderende effek wat korrupsie op die samelewing as geheel het.

“Hierdie tipe blatante korrupsie is net tekenend van hoe onbeskaamd korrupsieplegers deesdae geword het. Die klaers wat geweier het om deel te neem aan die verdagte se slinkse plan, is die ware helde en hulle behoort geprys te word vir hul onverskrokke hantering van die saak. Daar moet wel daadwerklike gevolge wees vir persone wat hulself skuldig maak aan korrupsie en daarom sal ons saam met die SAPD werk om toe te sien dat die verdagte aan die pen ry,” sê Venter.

Volgens Venter het die eenheid en klaer positiewe samewerking van die polisie verkry. “Ons bly egter bekommerd dat daar tot op hede geen vordering was met die moontlike arres en hofverskyning van die verdagte nie. Hierdie tipe sake verdien spoedige aandag en die vertraging in ’n saak met sterk getuienis word betreur. Ons doen dus ’n beroep op alle betrokkenes om in sake waar gewone mense besluit om nié korrup te wees nie, die nodige aandag te gee,” sluit Venter af.

Similar Posts