Lisensiekantoorbeampte vas vir R1 miljoen se bedrog en korrupsie ná AfriForum ingryp

Die burgerregteorganisasie AfriForum se klagte by die Stad Tshwane oor beweerde bedrog en korrupsie van ’n beampte by ’n lisensiekantoor in Pretoria, het vrugte afgewerp nadat die beskuldigde beampte deur die SAPD in hegtenis geneem is. Die Stad Tshwane het ook bevestig dat ’n interne ondersoek teen die beskuldigde beampte geloods is en dat dissiplinêre stappe op grond van die uitkoms daarvan geneem sal word.

AfriForum het vroeër in 2022 inligting ontvang dat ’n beampte by die lisensiekantoor ter sprake aan ernstige bedrog en korrupsie skuldig is. Volgens AfriForum se inligting beloop die totale bedrag van korrupsie en bedrog waarvan die beampte beskuldig word meer as R1 miljoen. Die organisasie het ’n prokureursbrief aan die Stad Tshwane gestuur met die amptelike klagte, sowel as relevante inligting en bewyse. ’n Vergadering tussen AfriForum en die Stad Tshwane het ook in Mei 2022 plaasgevind waarin die Stad onderneem het om die saak te ondersoek.

“Suksesse soos hierdie is altyd die hoogtepunt van ons werk by AfriForum. Dit beklemtoon ook die sleutelrol wat die burgerlike samelewing speel om korrupsie en bedrog van regeringsbeamptes aan die kaak te stel. AfriForum onderneem om voort te gaan om regerings op plaaslike en nasionale vlak aanspreeklik te hou vir gebrekkige dienslewering en korrupte werknemers,” sê Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Similar Posts