Geregtelike ondersoek uitgestel: Adv. Gerrie Nel in hof teen Ford

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het vandag namens die Jimmy-gesin in die Wes-Kaapse hoë hof verskyn in die geregtelike ondersoek na die dood van Reshall Jimmy. Jimmy het in Desember 2015 doodgebrand toe die Ford Kuga wat hy bestuur het aan die brand geslaan het. Ford-motormaatskappy is ook ’n party tot die verrigtinge. Die geregtelike ondersoek is uitgestel tot 18 Maart 2019. Dié ondersoek sal bepaal of Ford vir Jimmy se dood vervolg kan word.
Die getuienisleier in die saak het versoek dat die ondersoek uitgestel word. Volgens AfriForum se regspan, is hierdie aansoek deur Ford se regspan geïnisieer en is dít gedoen sonder enige kennisgewing aan die Jimmy-familie of hul regsverteenwoordigers. Nóg die SAPD, nóg die Jimmy-familie het dié uitstel versoek, dus is hierdie vertraging, volgens AfriForum, slegs in Ford se belang.

“Die uitstel van verrigtinge sal nie keer dat ons wil toesien dat geregtigheid geskied nie. Ons kan nie toelaat dat groot korporatiewe maatskappye in gevalle soos hierdie nie aanspreeklikheid aanvaar nie. Bewyse dui daarop dat die brand deur ’n meganiese fout veroorsaak is en ons vertrou dat hierdie geregtelike ondersoek die waarheid aan die lig sal bring,” sê Andrew Leask, ondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Hierdie saak is ook ’n belangrike verdere stap in AfriForum se strategie om die beginsel van privaat vervolging te vestig.

Similar Posts