Strafregstelsel laat 3-jarige verkragtingslagoffer in die steek: AfriForum vervolg

AfriForum het vandag tydens ’n mediakonferensie aangekondig dat adv. Gerrie Nel, hoof van dié burgerregte-organisasie se privaatvervolgingseenheid, ’n man privaat gaan vervolg wat sy driejarige kleindogter verkrag het. Privaat vervolging word ingestel omdat die strafregstelsel die slagoffer in die steek gelaat het.

Die verkragting en/of seksuele aanranding het in die huis van die slagoffer se grootouers plaasgevind. Die oupa (die aangeklaagde) is ’n suksesvolle, gerespekteerde sakeman in die finansiële bedryf.

Die slagoffer het die verkragting en aanranding aan haar ma en pa meegedeel, en ’n sielkundige het die seksuele aanranding in ’n psigo-regsassessering bevestig. Die slagoffer het ook haar oupa as die oortreder aan haar onderwyser geïdentifiseer.

“Toe die klaer ons kantoor die eerste keer nader en ons van die feite inlig, was ons uit die veld geslaan dat die polisie nagelaat het om verklarings by die belangrikste onafhanklike getuies af te neem: dit wil sê die onderwyser en die sielkundige. Ons is ook stomgeslaan dat speurders geen stappe geneem het om selfoongetuienis in die hande te kry nie. Inteendeel, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het die dossier ná ’n maand gesluit,” sê Nel.

AfriForum het briewe aan die SAPD geskryf en hulle gesmeek om die verklarings af te neem. Die organisasie het die polisiebeampte se gedrag ook by sy bevelvoerders en polisiebestuur aangemeld. Ondanks dié briewe het die polisie hardnekkig geweier om die verklarings af te neem. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het die verklarings self van die getuies verkry.

“Ten spyte van die bewyse teen die beskuldigde wat bestaan, het die regstelsel die slagoffer in die steek gelaat. Dis nou al twee jaar later; die slagoffer het beperkte toegang tot haar ma en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het besluit om nie te vervolg nie. Die aangeklaagde het onbelemmerde toegang tot die slagoffer en het haar onlangs saam met hom met vakansie geneem,” sê Nel.

“Die NVG het ’n besluit geneem sonder om te verseker dat ’n behoorlike ondersoek gedoen is. Die vervolgers wat ek ken, sal vervolg as hulle met hierdie twee getuies konsulteer. As dié saak die aandag geniet het wat dit verdien, sou die vervolging van die aangeklaagde hoegenaamd geen probleem gewees het nie,” sluit Nel af.

Similar Posts