AfriForum behaal oorwinning teen Grace Mugabe

Grace Mugabe, voormalige presidentsvrou van Zimbabwe, se diplomatieke immuniteit is in die Johannesburgse hooggeregshof tersyde gestel.

Uitspraak in dié saak is vroeër in die Noord-Gautengse hoë hof voorgehou in AfriForum se aansoek teen die minister van internasionale betrekkinge en samewerking se vroeëre besluit om diplomatieke immuniteit aan Mugabe toe te staan.

Die aansoek was die eerste belangrike stap in ’n proses om Mugabe vir haar vermeende aanranding op Gabriella Engels, ’n jong Johannesburgse model, in Augustus verlede jaar, te laat vervolg.

Hoogdrama het geheers toe dit bekend geword het dat Mugabe Engels blykbaar met ’n elektriese koord aangerand het omdat sy ontevrede was oor haar twee seuns se eskapades in ’n luukse hotel in Sandton.

Die Suid-Afrikaanse regering en spesifiek Maite Nkoana-Mashabane, toe minister van internasionale betrekkinge en samewerking, (Dirco) het destyds op ’n baie omstrede wyse besluit om stil-stil diplomatieke immuniteit aan Mugabe te verleen en haar só die geleentheid gegee om uit Suid-Afrika na Zimbabwe terug te keer ten einde vervolging in Suid-Afrika vry te spring.

Weens die verlening van diplomatieke immuniteit kon die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nie die klagtes teen Mugabe van aanranding met die doel om ernstig te beseer verder ondersoek nie en AfriForum het derhalwe verlede jaar ’n hofaansoek van stapel gestuur om die omstrede verlening van diplomatieke immuniteit tersyde te laat stel. Die DA het ook ’n soortgelyke aansoek gebring.

AfriForum en die DA het aangevoer Dirco se besluit om diplomatieke immuniteit aan Mugabe te verleen, was irrasioneel, onwettig en ongrondwetlik.

Similar Posts