AfriForum verwelkom regeringsbesluit om nie teen Grace Mugabe-uitspraak te appelleer nie

Die burgerregte-inisiatief AfriForum het die Suid-Afrikaanse regering se besluit verwelkom om nie te appelleer teen die Suid-Gautengse hoë hof se uitspraak om Grace Mugabe se diplomatieke immuniteit ter syde te stel nie.
AfriForum verwelkom ook die regering se aanduiding dat dit AfriForum en ander partye se regskoste sal betaal soos die hof gelas het.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is dit jammer dat die regering nie vroeër ag geslaan het op AfriForum se waarskuwings dat die diplomatieke immuniteit wat aan Mugabe verleen is ongrondwetlik is nie. “Dit is jammer dat AfriForum eers die howe moes nader om die regering te dwing om die regte ding te doen deur Mugabe se diplomatieke immuniteit terug te trek.”
Kriel het ’n beroep op die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gedoen om so spoedig moontlik vervolging teen Mugabe in te stel. Die NVG moet ook gereed wees om Mugabe in hegtenis te neem as sy sou besluit om na Suid-Afrika te kom. “Die slagoffer in die saak, Gabriella Engels, moes reeds lank wag dat geregtigheid geskied.”
Kriel sê adv. Gerrie Nel en sy span by die organisasie se privaatvervolgingseenheid staan gereed om Mugabe privaat te vervolg indien die NVG in die saak sloer.

Similar Posts