Duduzane Zuma verskyn in hof op aanklag van strafbare manslag en roekelose en nalatige bestuur

Duduzane Zuma, seun van voormalige president Jacob Zuma, het op 26 Maart 2019 in die Randburgse landdroshof verskyn op ’n klag van strafbare manslag en ’n klag van roekelose en nalatige bestuur.

Die staat het ’n tweede klag van strafbare manslag laat vaar nadat ’n verslag van ’n patoloog aangedui het dat ’n tweede slagoffer aan natuurlike oorsake dood is.
Elias Maangwale, senior ondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het die Dube-gesin – Edina Dube (moeder) en Pedzisane Dube (broer van oorledene) – tydens die hofverrigtinge vergesel en bygestaan.
Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het aanvanklik besluit om nie vir Zuma Jr. in verband met ’n motorongeluk op 1 Februarie 2014 op die M1-snelweg in Gauteng – waarin Mekelina Dube, ’n jong vroulike passasier, op slag dood is – te vervolg nie. Nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid aansoek gedoen het om Zuma Jr. privaat te vervolg, het die NVG egter sy aanvanklike besluit omgekeer en vervolging ingestel.
Verskeie getuies – waaronder ’n werknemer van die Suid-Afrikaanse Weerburo, ’n handelaar van Porsche Johannesburg, die taxi-bestuurder en ’n passasier – het getuig.
Duduzane Zuma se verskyning in die Randburgse landdroshof vandag is nie net ’n oorwinning vir die Dube-gesin, adv. Gerrie Nel en AfriForum nie, maar ook vir almal in die land wat die beginsel van gelykheid voor die reg ondersteun.
Die besluit om Zuma Jr. te vervolg is volgens Kallie Kriel, AfriForum se uitvoerende hoof, veral ’n groot oorwinning vir die Dube-gesin, wat nou uiteindelik ná meer as vyf jaar kan toekyk hoe geregtigheid geskied. Kriel het die Dube-gesin geloof dat hulle bereid was om aan te dring dat vervolging plaasvind en het aangedui dat AfriForum sal voortgaan om die gesin in dié saak by te staan.

“AfriForum se privaatvervolgingseenheid kan nie toelaat dat persone soos Duduzane Zuma vervolging vryspring bloot omdat hy beskerm word weens politieke konneksies nie. Die vervolgingseenheid is gestig met die doel om die beginsel van gelykheid voor die reg te bevestig. Die feit dat Duduzane uiteindelik in die hof verskyn is ’n oorwinning. Ons sal die proses deeglik moniteer om toe te sien dat geregtigheid geskied,” sê Maangwale.

Similar Posts