|

Waarvoor betaal ons?

AfriForum het ʼn veldtog oor inkomstebelasting van stapel gestuur nadat skokkende statistiek van 2015 aandui dat die regering in die 2015/2016 belastingjaar weereens nie sy verantwoordelikhede nagekom het nie. Dit word al hoe duideliker dat regering misbruik maak van belastingbetalers omdat inkomstebelasting styg terwyl die regering nie sy primêre verpligtinge nakom nie.

“Inkomstebelasting het 36,45% van die totale begroting van die 2015/2016-belastingjaar beloop. AfriForum het gaan kyk na wat die regering tydens die 2015-begrotingsrede belowe het en of belastingbetalers werklik kry waarvoor hulle betaal. Die uitslae was skokkend,” het Monique Taute, nasionale veldtogkoördineerder van AfriForum, gesê.

Die nasionale slaagsyfer vir matrikulante het met 5,1% gedaal het terwyl R203 miljard volgens die 2015/2016-begroting vir basiese onderwys begroot is. Suid-Afrika het verlede jaar die laagste plek op die wêreldranglys vir die gehalte van wiskunde- en wetenskapsonderrig behaal – ten spyte daarvan dat Suid-Afrika meer geld op onderwys as talle ander lande spandeer het.

“Die regering het nie net in sy plig gefaal om openbare onderwys op te skerp nie, maar ook sy primêre verantwoordelikheid om Suid-Afrika se inwoners te beskerm en hul veiligheid te verseker. In 2015 het die misdaadsyfer met 0,09% gestyg en meer as 2,2 miljoen misdade in Suid-Afrika gepleeg. Dit skep kommer oor waarop die R171 miljard wat vir sekuriteit, openbare orde en veiligheid beskikbaar gestel is dan spandeer is,” het Taute bygevoeg.

Taute het genoem dat werkloosheid in die derde kwartaal van 2015 nie met 1,2% na 25,5% sou toegeneem het as die regering die belastinggeld doeltreffend gebruik het om werkloosheid te beveg nie. Voorts het sy genoem dat dit onaanvaarbaar is dat Suid-Afrika as die land met die agtstehoogste werkloosheidsyfer in die wêreld aangewys is nadat die aantal werklose mense tussen kwartaal 2 en 3 van 2015 met 188 000 toegeneem het.

“AfriForum beplan om voor die 2016/2017-begrotingsrede ’n brief te rig aan mnr. Pravin Gordhan, minister van finansies, om antwoorde op die regering se leë beloftes van 2015 te kry,” het Taute afgesluit.

AfriForum moedig die publiek aan om hul opinies te laat geld deur aan te dui watter opsie hul mening die beste weerspieël. Dié keuse kan op AfriForum se webtuiste by https://www.afriforum.co.za/waarvoorbetaalons/ uitgeoefen word.

Similar Posts