| |

Net om Shaun Abrahams span ál nouer

Deur Alet Rademeyer

Die net span al nouer rondom adv. Shaun Abrahams, nasionale direkteur van openbare vervolgings (NDOV).

Die burgerregte-organisasie AfriForum en genl. Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, wat vermoedelik onregmatig deur adv. Nomgcobo Jiba geskors is, het vandag strafregtelike klagtes van meineed en regsverydeling teen Abrahams by die Silverton-polisiestasie ingedien.

Dit volg nadat die Noord-Gautengse hoë hof – in die saak oor Abrahams se onttrekking van die aanklagte teen sy adjunk, Jiba – bevind het dat die weergawes van Abrahams en Marshall Mokgathle (streekshoof van die misdaadeenheid teen gespesialiseerde kommersiële misdade) in hul onderskeie beëdigde verklarings aan integriteit ontbreek.

Die hof het ook bevind dat dit Abrahams was wat die aanklagte teen Jiba op aanbeveling van Mokgathle onttrek het. Dit was ook die hof se mening dat Abrahams en Mokgathle se weergawes ernstige vrae oor geloofwaardigheid laat ontstaan, en ook dat die verduideliking vir die onttrekking wat deur Abrahams verskaf is en deur Mokgathle ondersteun was “bisar in die ekstreme” is.

“Sowel Abrahams as Mokgathle het daarom ’n oortreding luidens Artikel 9 van die Wet op Vrederegters en Kommissarisse van Ede (Wet no. 16 van 1936) gepleeg, wat bepaal dat enige persoon wat in ’n beëdigde verklaring – afgelê voor ’n persoon wat bevoeg is om ’n bevestigingseed af te neem – ’n onwaar verklaring maak, wetend dat dit onwaar is, skuldig sal wees aan ’n oortreding en met skuldigbevinding tot die wetlike straf vir meineed gevonnis kan word,” sê Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid.

Taute meen Abrahams is duidelik nie geskik of gepas om in sy pos te dien nie.  “AfriForum doen ’n beroep op president Cyril Ramaphosa om Abrahams sonder verwyl af te dank en ’n nuwe NDOV aan te stel wat sonder vrees, guns of vooroordeel sal optree.”

Abrahams is ook in AfriForum se privaat vervolgingseenheid se visier omdat hy sloer om korrupte individue soos oudpres. Jacob Zuma en sy seun, Duduzane, strafregtelik te vervolg.

Abrahams het in ’n verrassende wending egter onlangs aangekondig dat hy wel strafregtelike vervolging van Duduzane heroorweeg nadat daar aanvanklik besluit is dat daar nie gronde vir vervolging is nie. Dié saak hou verband met ’n motorongeluk in 2014 op die M1-snelweg in Gauteng wat Duduzane veroorsaak het. ’n Jong, vroulike passasier in ’n ander voertuig, Mekelina Dube, is op slag dood.

Abrahams het die saak teen Duduzane hersien ná adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid, einde verlede jaar ’n skrywe namens die Dube-familie aan die nasionale vervolgingsgesag (NVG) gerig het om ’n nolle prosequi-sertifikaat aan te vra wat dit vir AfriForum moontlik sou maak om Duduzane privaat te vervolg.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, meen Abrahams se besluit is ’n oorwinning.

Abrahams sou vandag aandui of oudpres. Zuma op grond van korrupsieklagtes vervolg gaan word.

Kriel meen dit is duidelik dat Abrahams al hoe meer in ’n hoek gedruk word.

Benewens druk deur AfriForum dat Abrahams sy pos moet ontruim, hang daar ook ’n verdere swaard oor sy kop nadat die Noord-Gautengse hoë hof vroeër bevind het dat sy (Abrahams) aanstelling ongeldig was. Die hooggeregshof het in Desember beslis dat Abrahams sy pos moet verlaat.

Die NVG het teen dié hofbeslissing geappelleer en dié appèl sal eerskomende Woensdag in die Konstitusionele Hof aangehoor word.

Oudpres. Zuma het op sy beurt ook onlangs stukke by die Konstitusionele Hof ingedien waarin hy beswaar aangeteken het teen die hooggeregshofbeslissing dat Ramaphosa ’n nuwe NDOV in Abrahams se plek moet aanstel.

Similar Posts