AfriForum loods Vervolg Zuma-veldtog

AfriForum het vandag sy Vervolg Zuma-veldtog van stapel gestuur. Die burgerregte-organisasie het as deel van hierdie veldtog ’n petisie ter ondersteuning van die vervolging van Jacob Zuma geloods. Die doel van dié petisie is om druk op die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) te plaas om Zuma strafregtelik te vervolg.

“Die kultuur van straffeloosheid wat heers – omdat die staat se vervolgingsmasjinerie skynbaar nie gretig is om korrupte persone tot verantwoordbaarheid te roep nie – is genoeg om enige wetsgehoorsame burger se bloed te laat kook. AfriForum deel die publiek se ongeduld in dié verband en dit is juis om hierdie rede dat ons dié veldtog van stapel gestuur het en die publiek aanmoedig om die Vervolg Zuma-petisie te onderteken,” sê Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid.

“Ons kan nie langer toelaat dat misdadigers soos Zuma geregtigheid vryspring nie. Ons boodskap aan Zuma en alle korrupte lede van die land se sakesektor, regeringslui en politici is dat ons op hul spoor is en dat hulle nêrens kan wegkruip nie. Jacob Zuma het lank genoeg geregtigheid vrygespring. Dit is tyd dat hy vervolg word.”

Laastens sê Taute dat, indien die NVG besluit om nie korrupte persone te vervolg nie, AfriForum se privaat vervolgingseenheid gereedstaan om die saak vir privaat vervolging te oorweeg.

Die publiek kan AfriForum help om druk op die NVG te plaas om Jacob Zuma te vervolg deur die Vervolg Zuma-petisie te onderteken of hul naam na 45352 te SMS (R1).

 

Oops! We could not locate your form.

Similar Posts