AfriForum behaal oorwinning in hof: Geregtelike doodsondersoek na Rwandese intelligensiehoof moet gestaak word

Landdros Mashiane Mathopa het vandag in die Randburgse landdroshof beslis dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se geregtelike doodsondersoek na die dood van kol. Patrick Karegeya, die voormalige intelligensiehoof van Rwanda, gestaak moet word. Dít volg nadat adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, ’n aansoek namens Karegeya se familie in hierdie verband gebring het.

Karegeya, wat asiel in Suid-Afrika gesoek het nadat hy uit Rwanda gevlug het, is in 2013 verwurg in ’n hotelkamer in Johannesburg gevind. Ná vyf jaar se versuim om te vervolg, het die NVG besluit om dié saak voor die landdros in te dien vir ’n geregtelike ondersoek na Karegeya se dood nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid namens Karegeya se familie en ander partye genader is om vas te stel waarom sy dood nie behoorlik ondersoek is nie.

Hierdie uitspraak is ’n oorwinning vir AfriForum en die regstelsel, want dit stuur ’n boodskap aan die polisie en die NVG dat hulle nie regsprosesse kan gebruik om vervolgingsake te vertraag of toe te smeer nie. In sy uitspraak sê landdros Mathopa dat die polisie en NVG glad nie aangedui het watter stappe hulle gedoen het om die verdagtes voor die hof te kry nie. Die landdros sê verder dat dit duidelik is dat die NVG weet wie die verdagtes in hierdie saak is en as geregtigheid vertraag word, dit beteken dat geregtigheid ontken word. Die ondersoekbeampte in hierdie saak moet verder binne 14 dae van die uitspraak onder meer aandui watter stappe hulle gedoen het om die Rwandese verdagtes te arresteer, aangesien dié persone se identiteit en ligging bekend is.

“Dit is ’n baie positiewe uitspraak. Die NVG se instel van ’n geregtelike doodsondersoek was in hierdie geval ’n misbruik van regsprosesse, wat gebruik is om ’n onverklaarbare vertraging in die saak te probeer toesmeer. Ons sal die proses en die verloop daarvan noukeurig moniteer om toe te sien dat geregtigheid geskied,” sê adv. Nel.

Similar Posts