Gerrie Nel en AfriForum gaan Duduzane Zuma privaat vervolg

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid, het vandag aangekondig dat AfriForum met regstappe begin het om Duduzane Zuma, seun van president Jacob Zuma, privaat op ’n strafregtelike klag van strafbare manslag te vervolg.

Die vervolging hou verband met ’n motorongeluk wat op 1 Februarie 2014 op die M1-snelweg in Gauteng deur Zuma Jr. veroorsaak is. Pumzile Dube, ’n jong, vroulike passasier in ’n ander voertuig, is op slag dood in dié ongeluk.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het op 18 Augustus 2015 besluit om Zuma Jr. nie te vervolg nie, ten spyte van die feit dat landdros L. Chetty tydens ’n formele geregtelike doodsondersoek na Dube se dood bevind het dat daar prima facie-getuienis is dat Dube se dood deur Zuma Jr. se nalatige optrede veroorsaak is. Die NVG het nooit teenoor Dube se familie bekend gemaak dat dit besluit het om nie vir Zuma Jr. te vervolg nie. Die NVG se besluit het onlangs rugbaar geword as deel van die sogenaamde Gupta-e-posse wat aan die lig gekom het.

Nel en AfriForum tree in die saak teen Zuma Jr. op namens Pezisani Dube, die oorledene se broer, en Edina Dube, haar moeder, wat tans na die oorledene se minderjarige kind omsien. Nel het reeds namens die Dube-familie ’n skrywe aan die NVG gerig om ’n nolle prosequi-sertifikaat aan te vra. Sodra AfriForum dié sertifikaat ontvang, kan die proses begin om Zuma Jr. privaat te vervolg. Die Dube-familie is gretig om met AfriForum se hulp toe te sien dat geregtigheid geskied rakende Dube se dood.

Volgens Nel is AfriForum se privaat vervolgingseenheid juis gestig om toe te sien dat daar gelykheid voor die reg is en dat geregtigheid geskied – ongeag wie die oortreder is. “Daar is geen geldige gronde vir die NVG se besluit om Zuma Jr. nie te vervolg nie en Dube se familie verdien om te sien dat geregtigheid geskied en dat die saak nie anders hanteer word as gevolg van wie die vermeende oortreder is nie”, het Nel gesê.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê dat die voorgenome privaat vervolging ’n baie duidelike boodskap moet uitstuur dat niemand bo die reg verhewe is nie, “selfs al is jou van Zuma”.

Nel het verduidelik dat, indien die NVG die nolle prosequi-sertifikaat uitreik, AfriForum in terme van die wet binne 90 dae met die privaat vervolgingsproses sal moet begin. Die vervolging sal dan presies soos enige ander strafregtelike saak in die hof voortgaan, behalwe dat die aanklaer Nel sal wees, wat nie in diens van die NVG is nie. Die NVG het egter ook die opsie om sy besluit om te keer om Zuma Jr. nie te vervolg nie en hom wél te vervolg. Volgens Nel sal só ’n besluit ook vir AfriForum en die Dube-familie ’n oorwinning wees, aangesien die hele doel van die optrede is om toe te sien dat vervolging geskied. Nel het daarop gewys dat, sou die NVG onregmatig met die uitreiking van die nolle prosequi-sertifikaat sloer, AfriForum se privaat vervolgingseenheid nie sal huiwer om die NVG deur die hof te dwing om dit wel te doen nie.