| |

AfriForum loods petisie teen wanbesteding van belastinggeld

AfriForum het ’n omvattende veldtog, #waarvoorbetaalons?, van stapel gestuur om die regering verantwoordbaar te hou vir die wanbesteding van toegedeelde belastinggeld. As deel van dié veldtog word lede van die publiek gevra om hulle name by die amptelike brief te voeg wat AfriForum by die nasionale tesourie wil indien. Dié brief sal aan mnr. Pravin Gordhan, die minister van finansies, gerig word en aandring op volledige terugvoer oor die besteding van fondse wat toegedeel is om onderwys te verbeter, werkloosheid te verminder en sekuriteit, openbare orde en veiligheid te verbeter.

“Ons as landsburgers betaal baie duur vir ’n swak diens. Suid-Afrikaners voel die direkte gevolge van staatsverswakking: beurtkrag, swak dienslewering, swak onderwys, stygende misdaad en ’n lae ekonomiese groei,” het Monique Taute, nasionale veldtogkoördineerder van AfriForum, gesê.

“Volgens AfriForum se meningspeiling oor die besteding van belastinggeld, is dit duidelik dat belastingbetalers van mening is dat hul belastinggeld wanbestee word. Die meerderheid respondente voel ook dat dit onregverdig is om belasting te betaal as die regering nie sy verpligtinge nakom nie. Dit word al meer duidelik dat ons nie waarde vir ons duur belastinggeld kry nie,” sê Taute.

Taute het voorts gesê dat Statistieke Suid-Afrika die land se bevolking in 2014 op 54 miljoen beraam het, terwyl slegs 5,5 miljoen belastingopgawes tydens die 2014-belastingseisoen by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens ingedien is. Dit beteken dat ’n skamele 10,22% van Suid-Afrikaners tot 100% van Suid-Afrika se inkomstebelasting bydra. Dit is hoog tyd dat dié 10% daarop aandring om te weet waarvoor hul belastinggeld aangewend word en teen die wanbesteding daarvan begin protes aanteken.

AfriForum moedig die publiek daarom aan om die petisie teen die wanbesteding van toegedeelde belastinggeld te steun deur hul naam na 45352 te SMS (R1) of die petisie op AfriForum se webblad by www.afriforum.co.za te onderteken.

Similar Posts