Adv. Gerrie Nel in hof teen Ford: Só verloop dit tot dusver

Getuienis is vandeesweek in die Wes-Kaapse hoë hof gelewer in die geregtelike doodsondersoek na Reshall Jimmy wat in Desember 2015 doodgebrand het toe die Ford Kuga wat hy bestuur het na bewering aan die brand geslaan het.

Dié ondersoek sal bepaal of Ford vir Jimmy se dood vervolg kan word. Maandag sou Jimmy se verjaardag gewees het.

Maandag het die staat, AfriForum en Ford se regspanne hul openingsbetoë aan regter Robert Henney gelewer.

Die staatsaanklaer, adv. Anthony Stephens, het aan die hof gesê dat die geregtelike doodsondersoek nie ’n strafregtelike verhoor is nie en dat die hoofdoel is om te bepaal of ’n kriminele oortreding plaasgevind het.

“Hierdie is ’n ondersoek na die dood van ’n enkele persoon. Ek is seker daarvan dat almal ander gerugte gehoor het van ander Kugas wat aan die brand geslaan het, maar daardie voorvalle is nou irrelevant.”

Adv. André Bezuidenhout, vir Ford, het in sy openingsargument gesê dat Jimmy se dood ’n “tragiese insident” was. Hy het sy meegevoel teenoor Jimmy se familie betuig.

Bezuidenhout het ook geargumenteer dat daar geen konkrete bewyse is dat Jimmy dood is weens ’n tegniese of elektroniese fout van die motor nie. Hy het voorts die Jimmy-familie en AfriForum daarvan beskuldig dat hulle ’n sosialemedia-veldtog geloods het om Ford in ’n swak lig te plaas en hul naam deur die modder te sleep.

“Julle was te vinnig om te oordeel. Motors is komplekse toestelle en brande kan nie aan spesifieke motorhandelsmerke gekoppel word nie. 52 Ford Kuga-motors se enjins het aan die brand geslaan sedert Jimmy se dood. Die brand in Jimmy se motor het egter nie ontstaan in die enjin nie, die enjin was onaangeraak.”

Hy het ook aangevoer dat daar agt ander moontlike oorsake vir die brand kon wees, insluitend die wanfunksionering van die selfoonlaaier, opsporingstoestel of ’n e-sigaret wat in die motor gevind is.

Hy het verder gesê dat daar geen bewyse is dat ‘n tegniese fout van die motor veroorsaak het dat Jimmy tydelik onbevoeg was om uit die motor te klim nie. “Die groot vraag dan, is waarom het Jimmy nie uit sy voertuig probeer klim toe die brand ontstaan het nie?”

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het namens die Jimmy-gesin verskyn en uitgewys dat die Kuga-model nie die vervaardiger se enigste kopseer is wat in ’n brandende kwessie ontaard het nie.

Hy het verwys na die omstrede Ford Pinto wat in 1971 bekendgestel is en in 1978 herroep is weens brandstoftenks wat aan die brand geslaan en honderde lewens geëis het. “Ford probeer nou, soos met die Pinto-saak net baie stof opskop en nie die tegniese foute regstel nie,” het Nel gesê.

Hy het aangevoer dat die omstandigheidsgetuienis bewys dat ’n brand met ’n “skoorsteen-effek” moontlik Jimmy se dood veroorsaak het.

Die hof het ook gehoor dat Ford geweier het om hul verslag oor die brand, wat deur ’n mnr. Anthony Young opgestel is, te openbaar. Dié verslag was egter die tweede verslag wat Ford laat opstel het. Die eerste verslag is deur ene mnr. Engle opgestel en slegs sy verslag is met die polisie gedeel.

Konst. Thembekile Matwa, die polisie se hoofondersoekbeampte in dié saak, was die eerste getuie in die hof.

Matwa het vandag getuig dat Young saamgestem het met die SAPD se forensiese kenner en die versekeringsmaatskappy se tegniese kenner dat die vuur ontstaan het in die paneelbord aan die passasierskant van die motor. Engle se verslag dui egter dat die vuur agter in die motor se kattebak ontstaan het.

Konst. Ryan Petersen, die eerste polisiebeampte wat op die toneel was op die aand van Jimmy se dood, het ook vandag getuig.

Hy het aan die regter gesê dat hy die aand nie kon onderskei watter kant van die motor erger gebrand het nie en weens die vlamme nie kon sien of daar ’n persoon in die voertuig was nie. Hy het verder getuig dat hy ’n harde geluid, wat soos ’n ontploffing geklink het, gehoor het toe hy op die toneel was.

Ford se regspan het een van die getuies se selfoonvideo’s van die brand, waarin ’n plofgeluid gehoor kan word, in die hof gespeel. Die getuie het aan die ondersoekbeampte gesê dat hy ’n koper item, moontlik ’n koeëldop, die oggend ná die voorval, op die toneel gesien het.

Lt. Kol. Richard Tonkin, van die polisie se ernstige en gewelddadige misdaadeenheid wat die brandtoneel ondersoek het, het vandag getuig dat hy van mening is dat die voorwerp wat naby die voertuig gevind is, nie ’n koeëldop is nie.

Die hof het ook gehoor dat alle aantuigings afgewys is wat voorheen deur Ford gemaak is rondom Jimmy se doen en late die aand van sy dood, insluitend dat hy die aand gedobbel het of deur ’n groep verdagte mans aangerand is.

Die saak gaan môre voort.

Similar Posts